Die avonture van Kuifie

'n Muurskildery by die Stokkel-moltreinstasie te Brussel toon karakters uit die Kuifie-reeks. Links: Kuifie en Kaptein Sardyn
'n Muurskildery van Kuifie, Kaptein Sardyn en Spokie in Brussel

Die avonture van Kuifie (Frans: Les Aventures de Tintin et Milou) is een van die gewildste Europese strokiesverhale van die twintigste eeu, met 'n oplaag van meer as 200 miljoen boeke, wat in sowat sestig tale verskyn het. Die hooffigure van die verhale is die jong verslaggewer Kuifie en sy metgesel, die hond Spokie.

Die eerste verhaal van Kuifie verskyn op 10 Januarie 1929 as 'n bylae van die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle. Hergé skryf en teken in die tydperk tussen 1929 en 1976 23 strokiesverhale (die laaste verhaal bly onvoltooi). Die eerste Afrikaanse uitgawes is in 1974 deur Human & Rousseau in Kaapstad vrygestel.

Die skepper van Kuifie, die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Remi oftewel Hergé (1907–1983), staan bekend as die vader van die moderne strokiesprent en kry erkenning vir sy styl van ligne claire, wat sy strokiesprente van ander werke onderskei, en sy meesterlike vertelkuns. Vir sy latere werke doen hy uitgebreide navorsing om die verhale so outentiek moontlik te maak. Hy hou steeds die maatskaplike ontwikkelinge dop en werk hulle in sy verhale in.

Die avonture van Kuifie dek 'n aantal genres soos fantasie, misdaad, politieke tema's en wetenskapsfiksie, maar staan ook bekend vir hulle humor, gesofistikeerde satiriese inslag en politieke of kulturele aanmerkings. Die Afrikaanse uitgawes wat deur Protea Boekhuis gepubliseer is, is (net soos die Asterix-strokiesprente) vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois wat by die Universiteit Stellenbosch gestudeer en 'n meestersgraad in Frans behaal het. Sy bly tans in Parys.[1]

  1. Maroela Media – Boek, 7 Mei 2019: Die avonture van Kuifie – Bestemming maan. Besoek op 8 Mei 2019

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy